WELKOM BY LUISTERSTORIES

Die wonder-wêreld van stories en die kweek van storieliefde

DIE WONDER-WÊRELD VAN STORIES

Stories is dié ideale leer-medium. Dit spreek vele fasette van ‘n kind se ontwikkeling aan en is boonop deurdrenk met humor en avontuur. Dit versterk die kragtigheid van die leerervaring. Stories bou intellektuele, opvoedkundige, sosiale, emosionele en morele skatte in ‘n kind se lewe in wat langtermyn les-waarde het.

KWEEK VAN STORIELIEFDE

‘n Storie-hoorder word makliker ‘n storie-leser. Ongelukkig het mammas nie altyd die tyd (of krag) om stories voor te lees nie. OUDIOstories gee die kind die alternatiewe geleentheid om op ‘n baie  kreatiewe en opwindende manier aan die wonderlike vreugde van stories blootgestel te word.

 

LEKKER LUISTER-OEFENINGE

Dis ekstra lekker – iemand anders doen die vertel-werk namens mamma, sodat sy dan so effe kan rus, of dit sommer sáám met haar kroos geniet! CD-stories is ook ’n wonderlike en effektiewe medium vir belangrike luister-oefen.

DIE BELANG VAN LUISTER, SONDER VISUELE VOER

Kinders moet dit wat hulle hoor, effektief kan verwerk ten einde by insig, vaslegging en toepaslike aksie uit te kom. Onontwikkelde luistervaardighede is ‘n reuse bron van klas-konflik en onderprestasie en lei uiteindelik tot geweldige persoonlike stres vir die kind.

DVD’s is baie gewilde en heerlike vermaak, maar kinders het ongelukkig ook in ‘n groot mate verleer hoe om fyn te luister – hulle het afhanklik geraak van visuele hulpmiddels vir inligting-prosessering. Tydens die kyk-proses, is daar prentjies sowel as klank. Die visuele sintuig is egter die sterkste en sal maklik die ouditiewe oorheers. Die prentjies gee genoeg inligting sodat die storielyn steeds gevolg kan word. So verleer die oortjies om hard te werk vir regtig ‘verstaan’. Die skoolopset verwag egter van kinders om BAIE GOED te luister.

Oudiostories help jou kind om AKTIEWE LUISTER te oefen. Dis soos fietsry. Teen die tyd dat die kind skool toe gaan en primêr op sy luistervaardighede moet steun, is dit dan reeds goed ingeoefen en kan hy of sy dit gemaklik benut. Inoefening is inskerping is vaslegging. ‘n Gedramatiseerde storie soos hierdie maak dit darem lekker om weer goed te moet luister. Kinders wat gewoond is aan DVD’s gaan dalk skepties wees om net na ‘n storie te luister, maar hulle sal gou agterkom dat dit ook ‘n héérlike verbeeldingswêreld is.

Is luistervaardighede dieselfde as ‘gehoorsaamheid’? Nee. Gehoorsaamheid het ook ’n baie sterk emosionele komponent. Jy kan dus ’n kind met uitstekende luistervaardighede hê wat baie ongehoorsaam is. Hier moet gekyk word na wat agter die ongehoorsaamheid skuil. Moontlike behoefte aan aandag? Behoefte aan meer struktuur of konsekwentheid?

 

VOORDELE VAN LUISTERSTORIES

VERBEELDING EN FANTASIE

Daar is ’n nuwe tendens by ouers om uiters vreesagtig te wees vir die wêreld van fantasie. Een rede hiervoor is die animasiekunstenaars wat heel selfsugtig-winsgewend poog om kinderstories vir ‘n groter ouderdomsgehoor ‘entertaining’ te maak. Tegnologie word ingespan om fantasiestories konkrete gestalte te gee deur onnodige, oordrewe donker en skrikwekkende visuele beelde. By ’n CD-luisterstorie maak die kind self prentjies in sy kop van die ‘slegte ou’ – hanteerbaar vir sy eie ouderdom. Bygesê, indien die kind se gedagteprentjies nie reeds vergiftig is deur gereelde walglike beelde met oordrewe boosheid-detail nie.

Ek is dus altyd ‘n konserwatiewe ouer wat betref wat my kinders mag KYK. Die visuele sintuig is die sterkste. Die ore vergeet gouer. Daardie prentjie wat vir jou kind sonder sy toestemming gewys word is diep ingeprent en sal herhalend deur die brein opgeroep word. Beoordeel dus eerder: Die Grafiese uitbeelding van ‘n storie, veral in flieks. Die mate van gewelddadigheid en boosheid wat visueel vir die kind gevoer word.

Fantasie opsigself kom nie van ou satan af nie. Die ironie is, daar is potensiële boosheid in alles om ons; in ‘n groot mate bepaal deur ons eie menslike fokuspunt en gebruik daarvan. Ons verbeeldingskant is die ander deel van ons dinkbrein, ook deur ons selfde God geskep. Dit is ons skeppende gedeelte en probleemoplossings gedeelte. Ons moet weliswaar in staat wees om kreatief buite die boks te kan dink ten einde werklike realiteitsprobleme op te los. Ons moet dit nie van ons kinders ontneem nie. Verbeelding op ‘n gesonde manier gekanaliseer, breek eensydige, beperkende denk-mure af.

Voordat ons verbeelding en fantasie summier van ons kinders wegvat, moet ons as ouers eerder ons eie daaglikse woorde ondersoek. Die realiteit waaroor grootmense so baie praat en kla is regtigwaar skrikwekkend en terneerdrukkend. Ons moet dus die woorde tel wat ons so maklik en mildelik om ons kinders se ore saai. Ons eie ondeurdagte woorde is baie keer die bron van diepe interne vrese by ons kinders. Fokus op die mooi en goeie en takel probleme en krisisse met positiwiteit en hoop. En geniet daardie kreatiewe wêreld van ‘n kind.

 

WAT LUISTERSTORIES VIR KINDERS BIED

Lekker lag . Feitekennis . Verbeelding . Kreatiwiteit . Aandagspan . Konsentrasie . Taalverryking . Vrede in die motor . Probleem-oplossing . Ouditiewe prosessering . Woordeskat-uitbreiding . Maatskaplike- en sosiale leerskool . Kweek nuuskierigheid en storieliefde . Bevorder logiese- en wiskundige denke

kinders + STORIES = genot en G-R-O-E-I

OPBOUENDE TYDBESTEDING

Die luisterstories is ideaal vir lang ry-ente in die motor, slaaptyd, vakansietyd, siek-tyd of die koue binnebly-wintermaande.

Deur hierdie oudio-reeks leer die kind op ‘n avontuurlustige en humoristiese wyse van spanwerk, waagmoed, gehoorsaamheid, liefde, eie-waarde, omgee en oorwinning oor vrees.